Sunday, July 6, 2008

Christen Kerk van Australië - Gold Coast




Ek was op verlof gewees dié week. En dit gee my as predikant die geleentheid om bietjie te gaan kuier by ander gemeentes. So het ek en Cecile, asook Jacques en Angela Pretorius met hul kinders besluit ons gaan inloer by die nuut gestigte Afrikaanse Gemeente op die "Gold Coast" te Coolibah Downs.

Oppad soontoe vra my vrou vir my "wanneer laas was ons by 'n Afrikaanse Diens gewees?" Ons het besef dit was amper 6 jaar laas. So dit sou nou 'n stukkie nostalgie vir ons wees.

Daar aangekom, vind ons toe 'n pragtige kerkie, met baie vriendelike mense. Ds. Danie Venter het die erediens behartig en gepraat oor God wat in ons en deur ons wil werk. Ons het ook 'n paar bekende gesange gesing wat baie goed begelei was deur 'n talentvolle klavierspeler.
Na die diens het ons lekker gekuier oor 'n koppie koffie (en ook 'n paar bekende gesigte raak geloop.) Ons is eindelik daar weg met die gevoel dat ons nuwe vriende gemaak het.

Jul kan hier klik om te kyk na hul webwerf. http://www.ackagc.org
As jul van iemand weet wat in daardie omgewing bly, beveel hulle gerus aan om te gaan kuier by dié gemeente.
Oor een ding is ek seker. Daar is duisende Suid-Afrikaners wat die land in stroom. Dit is meestal mense wat uit 'n kerk agtergrond kom en dan ook hier probeer 'n kerk tuiste vind. Daar is wel gemeentes wat Suid Afrikaners hartelik ontvang. Maar wat van die areas waar integrasie nie plaasvind nie, en mense sukkel om aan te pas by bestaande gemeentes? Dan dink ek Ds. Danie Venter en sy nuwe gemeente het so pas vir ons 'n voorbeeld gestel. As duisende Afrikaners oor die volgende 10 jaar gaan bly stroom na Australië toe, dan moet ons bid dat God sal help dat daar geestelike tuistes vir hulle geskep sal word. En waar daar reeds bestaande tuistes is, moet ons dit maklik maak vir mense om hulle pad te vind na sulke kerke toe. Juis daaroor moet ons hande vat en 'n Netwerk bou van bestaande en nuwes gemeentes.

Ek het so drukkende gevoel in my binneste - hier is groot werk wat vir ons voorlê.

In Sy diens

Joe

No comments: